skip to Main Content

SEIN UND ZEIT – BESTAAN EN TYD

For you have long been aware of what you mean when you use the expression “being”. We, however, who used to think we understand it, have now become perplexed… [Plato, 2600 years ago]

Die mens woon in ‘n wêreld waarin hy buite sy wil gebore word en geworpe is, en voortdurend geworpe bly tot sy dood.

Hy het ‘n verlede, bestaan noú, word voortgesleur in tyd; al wat seker is van sy toekoms, is sy dood.

Ge-werp in dinge, daar-synde (da-sein), verval hy en staan op die punt om verswelg te word in da-sein, ondeurdagte daarwees, dinge. Hy is voortdurend ‘n geworpene, maar periodiek gaan hy só op in dinge dat hy tydelik geabsorbeer raak daarin (Aufgehen in). Dan is hy niemand in besonders nie, en word dan bloot Das Man met sy karakteristieke, gesiglose “tranquilised self-assurance in average everydayness”.

Die kenmerke van Das Man is: Gerede und Neugier.  Gerede is ligsinnige praatjies en Neugier is die gier na nuwe, opwindende, aangrypende, sensasionele dinge. In Gerede staan die spreker en luisteraar nie in ‘n egte, intieme, intense verhouding teenoor mekaar of die onderwerp waaroor gepraat word nie; hul kommunikasie is oppervlakkig.  Neugier is ‘n vorm van ontvlugting.

Daar bestaan egter ‘n bepaalde gemoedstoestand — nuchtere angst — wat outentieke syn en vry-syn (Frei-sein) ont-sluit as bestaans-moontlikhede. Dit bring die mens voor die vrye keuse om homself te kies en om himself outentiek in besit te neem. Die betekenis van zeit, tyd, d.i. die eindige tydsduur van die mens se bestaan, word nou ervaar as die vryheid om sy eie dood te ontmoet (Freisein für den Tod), ‘n gereedheid en voortdurende in-verhouding-staan tot sy eie dood (Sein zum Tode). In nugtere angs, sink alle entiteite (Seiendes) weg in ‘n nêrens en niks, die mens dobber in homself as ek-sisterend, is ontuis, ontheemd (Un-heimlichkeit) en ontuis (Un-zu-hause). Hy staar Das Nichts in die gesig, en alles wat alledaags en kwasi-belangrik is, versink. Dít is goed, want hy staan nou voor die moontlikheid van ‘n outentieke bestaan. Synstrukture wat nou bereikbaar raak, is vreugdevolle aktiwiteit en wetende lewensvreugde (die wissende Heiterkeit). Nugtere angs open die mens vir Syn. Syn is egter nie verwant aan die donker kant van angs nie, maar aan lewensvreugde (das Heitere). On “Syn te dink” is om by ‘n mens se ware tuiste aan te kom.  Die diepste vorm van kennis is vir Heidegger phainestai: “om in die lig te wees.”

Back To Top